Al is sy nog net 15 jaar oud, het Cayline le Grange onlangs teentanders ouer as sy op die tennisbaan ore aangesit.
Die gr. 10-leerder aan die Hoër Meisieskool Oranje het einde Julie die vroue enkelspel op die Vrystaat geslote senior tenniskampioenskap gewen.
Dít nadat sy en haar medeleerder, Gina Moolman (gr. 11) albei op pad na die eindstryd met senior spelers afgereken het.
Gina het beïndruk deur verlede jaar se wenner in die vroue enkelspel, Lienke de Kock, in die halfeindronde met 2-6, 6-0, 6-2 te verslaan. De Kock is die Universiteit van die Vrystaat se voorste vrouespeler.
In die eindstryd was Cayline te sterk vir Gina en het haar in twee stelle (6-4, 6-2) tot oorgawe gedwing om die trofee te verower.
Nicole Twigge het vyfde en Carla Scholtz sewende geëindig.
Cayline het in die vroue dubbelspel ’n derde plek behaal.
* Tydens die wintervakansie was Linge Steenkamp en Liné Greyling na ’n Tennis Suid-Afrika oefenkamp genooi. Slegs vier spelers per ouderdomsgroep word genooi.
Liné het in Junie op die Coca-Cola Grand Prix in Durban die o.16 enkelspel gewen en was die naaswenner in die dubbels. Kort daarna op die Growthpoint KZN Super 8-toernooi ook in Durban het sy tot die halfeindronde in die enkelspel gevorder en die dubbelspel gewen.
Verlede maand op die ITF Wanderers-toernooi in Johannesburg het sy in die halfeindronde van die dubbels verloor.

Cayline le Grange, die Vrystaat geslote senior enkelspelkampioen vir 2019.