Die Hoër Meisieskool Oranje se eerste tennisspan het die naweek sy titel afgestaan wat hy die vorige agt jaar gedra het.
Oranje is Saterdag in die eindstryd van die Absolut Menlo-tennistoernooi in Pretoria deur die Hoërskool Menlopark onttroon.
Die skole het gelyk getrek ná die enkelspelwedstryde (2-2), maar het in die dubbels meer stelle verloor wat aan Menlopark die titel besorg het.
Liné Greyling het haar enkels met 6-2, 5-7 en 11-9 gewen en Gizelle Naudé hare met 6-1 en 6-2. Gina Moolman was met 3-6 en 6-7 aan die verloorkant en Inge Greyling het haar tweestryd met 1-6 en 1-6 verloor.
Gizelle en Kristen Fichardt het in hulle dubbelspelwedstryd die knie net-net met 7-6, 5-7 en 8-10 gebuig.
Inge en Gina se dubbelspelwedstryd is met die telling op 6-7 en 5-6 gestaak toe Menlopark genoeg gedoen het om met die louere weg te stap.
Oranje het die eindstryd gehaal deur gerieflik die aanslag van Paarl Girls’ High in die halfeindronde af te weer, sonder dat dit eers nodig was vir die dubbels. Inge, Gina en Gizelle het almal in skoon stelle koning gekraai. Veral Gina was op haar stukke en het met seges van 6-2, 6-1 uit die stryd getree. Liné het haar drie wedstryde met 2-1 gewen.
Teen Curro Durbanville en die Hoërskool Waterkloof het die Bloemfonteinse meisies albei keer met 18 wedstryde teenoor 1 geseëvier en teen die Hoërskool Cradock met 19-0.
Menlopark het op pad na die eindstryd met Affies, Paarl Girls’ High, Potchefstroom Gimnasium en Curro Durbanville (halfeindstryd) klaargespeel.

Die Hoër Meisieskool Oranje se eerste span wat die naaswenner op die Absolut Menlo-tennistoernooi in Pretoria was, is van links Liné Greyling, Inge Greyling, Kristen Fichardt, Gina Moolman en Gizelle Naudé.