Klik hier vir Saterdag se program.
As die vorige 20 jaar in ag geneem word, is die kanse goed dat van die atlete wat vanjaar aan die Stadium Fast Foods Grey/OMS-atletiekbyeenkoms gaan deelneem, in die toekoms op ’n wêreldverhoog kan eindig.
Die jaarlikse byeenkoms, die 21ste weergawe wat in samewerking met Grey-Kollege en die Hoër Meisieskool Oranje aangebied word, vind Saterdag in die Mangaung-atletiekstadion plaas. Daar is 147 items op die program wat om 08:15 begin. Die prysuitdeling is om 16:15.
’n Hele rits atlete wat Suid-Afrika op die Olimpiese Spele of senior Wêreldkampioenskap verteenwoordig het, het al in die verlede hulle merk op die byeenkoms gelaat.
Baie van hulle hou steeds byeenkomsrekords. Johan Cronjé (Grey, 1 500m en 800m, seuns o.17), LJ van Zyl (Grey, 100m, seuns o.14) en Jacques Freitag (Affies, hoogspring, seuns o.17) s’n staan steeds van die heel eerste byeenkoms wat op 30 Oktober 1999 plaasgevind het.
Van die ander atlete wat ook byeenkomsrekords hou en vir Suid-Afrika op senior vlak deelgeneem is, is Zeney van der Walt, Yolandi Stander, Lehann Fourie, Pieter Conradie (almal Affies), Wayde van Niekerk (Grey), Justine Palframan (Hoërskool Eshowe), Dumisane Hlaselo (HTS Louis Botha), Anneri Ebersohn (Oranje) en Rynardt van Rensburg (Kovsies).
Daar sal vanjaar 25 skole deelneem waarvan 18 van buite Bloemfontein is.
Die Hoër Landbouskool Oakdale (Riversdal) en die Hoërskool Helpmekaar (Johannesburg) maak sy hulle eerste verskyning en die Hoërskool Nico Malan (Humansdorp) is weer terug ná ’n afwesigheid van ’n paar jaar. Tuks se sportskool stuur ook ’n span.
Grey se naelloper Lucky Moleyane en diskusgooier Aron Alvarez Aranda, sowel as Oranje se Johani van Tonder (driesprong) en Zanelle Jansen van Rensburg (hekkiesloper) is atlete van die gasheerskole van wie vuurwerke verwag kan word.
Aranda en Van Tonder het albei vanjaar ’n eerste plek op die nasionale skolebyeenkoms vermag.
Van Tonder het verlede jaar op die Grey/OMS-byeenkoms die verspringrekord vir meisies o.14 na 5.37m verbeter en Moleyane het in 2017 die 200m-rekord vir seuns o.14 (22.41s) syne gemaak.

Vier van die atlete van die gasheerskole wat Saterdag dopgehou kan word op die Stadium Fast Foods Grey/OMS-atletiekbyeenkoms, is van links Lucky Moleyane (naellope), Zanelle Jansen van Rensburg (hekkies), Aron Alvarez Aranda (diskus) en Johani van Tonder (driesprong).