Vir ’n tweede agtereenvolgende jaar spog die Hoër Meisieskool Oranje met twee oudleerders in die Suid-Afrikaanse o.21-hokkiespan.
Dié span is vandeesweek op die interprovinsiale toernooi in Bloemfontein in aksie.

Mia Barnard (20) en Saré Laubscher (18), albei nou Pukke-studente, het reeds verlede jaar die span verteenwoordig. Laubscher was toe nog in matriek. Simoné Gouws was saam met Barnard die ander oud-Oranjes in die o.21-span.

Barnard en Laubscher het albei vier jaar lank vir Oranje in meer as 150 wedstryde gespeel.
Barnard studeer Finansiële rekeningkunde en Laubscher Menslike bewegingskunde en was albei lede van die Pukke se span wat vanjaar die Varsity-hokkietoernooi gewen het.

Volgens Morné Odendaal, onder wie se breierskap Laubscher Oranje verlede jaar aangevoer het, is sy ’n sterk hardloper met die bal en ’n speler met goeie lugvaardighede. “Sy het vinnige reaksies wat naby aan die doelhok vir haar baie doele in die sak bring. Sy was twee jaar gelede ongelooflik goed en was in ’n baie sterk Oranje-span by tye die beste speler. Sy is hardwerkend, nederig en ’n goeie spanspeler.”

Odendaal sê Barnard is ’n speler met “ongelooflike goeie hande”.
“Sy gebruik haar lyf ook baie goed om teenstanders te manipuleer, amper soos om in rugby ’n teenstander te systap. Mia is ’n harde werker en ’n regte spanspeler. Sy breek dikwels die lyn hier in die middelbaan en skep só baie doelpogings vir haar spanmaats.”

Presies ’n derde van die senior Vrystaatse span wat in die toernooi speel, is oudleerders van Oranje. Die sestal is Gouws, Andrea Bakkes, Esté van Schalkwyk, Antonet Louw, Lizanne Jacobs en Cornelle Holtzhausen. In die Vrystaat se eerste twee wedstryde (albei oorwinnings) het Gouws (drie), Jacobs en Louw vyf van die span se ses doele behaal.

Mia Barnard (links) en Saré Laubscher, gewese leerders aan die Hoër Meisieskool Oranje, speel albei vandeesweek vir die SA o.21-hokkiespan.

Saré Laubscher in haar speeldae vir Oranje.

Mia Barnard in haar speeldae vir Oranje.