Die eerste hokkiespan van die Hoër Meisieskool Oranje het sy oorheersing in die Vrystaat onderstreep met ’n 10-1 sege in die eindstryd van die Vrystaatbeker.

Die tien doele Saterdag in Bloemfontein teen die Hoërskool Sasolburg was sy meeste in ’n wedstryd vanjaar. Daarmee is die Oranjeniete ’n sewende jaar op ’n streep die Vrystaatse kampioen. Hulle het ook vir ’n sewende agtereenvolgende jaar in die eerste posisie op die skoleranglys afgesluit. In sy 49 wedstryde vanjaar was die span slegs drie keer aan die verloorkant, elke keer met slegs ’n enkele doel.

Hy het die Super12-toernooi (waar al die spanne op die top 10-skoleranglys betrokke was) sowel as die St. Mary’s-toernooi gewen.

Volgens Morné Odendaal, afrigter, is dit ’n lekker gevoel om nogmaals nr. 1 in die land te wees. “Mense besef nie hoe hard hierdie spelers werk nie. Ons verloor net vier matrieks (Amori Roos, Jané Britz, Elney Botha en Mandie de Wet) en hoop om volgende jaar en dan weer in 2022 te piek,” sê Odendaal.

Wat verder bemoedigend vir Odendaal is, is hoe goed die skool se o.16A-span vanjaar gevaar het. Hy het ook in die eerste posisie op die skoleranglys afgesluit en is vroeër vandeesmaand as die kampioen op die Top12-toernooi in die Paarl gekroon. Dié span het Saterdag die Vrystaatbeker omhoog gehou danksy ’n oorwinning van 7-0 in die eindstryd oor die Hoërskool Witteberg.

Kliek hier vir ‘n fotogalery.

Beste in Vrystaat én Suid-Afrika. Oranje se o.18A-hokkiespan.

Beste in Vrystaat én Suid-Afrika. Oranje se o.16A-hokkiespan.

Die kaptein Amori Roos, Jané Britz, Elney Botha en Mandie de Wet was almal staatmakers vir Oranje se eerste span. Amori, Elney en Mandie het die eerste span sedert 2017 verteenwoordig en Jané sedert verlede jaar. Van links is Jané, Amori, Elney en Mandie.