Ná ‘n 12 uur lange busrit na Stellenbosch arriveer die gr. 11- en gr.12-leerders van die Hoër Meisieskool Oranje Donderdag by die Universiteit Stellenbosch.
Die leerders het na ‘n voorlegging oor die universiteit geluister en is op ‘n begeleide toer deur die Maties geneem.
“Die toer was baie insiggewend. Ek weet nou waarvoor ek moet werk,” het Bea Louw (gr. 11) gesê.
“Dit is belangrik om jou drome te identifiseer en dit is wat die Maties jou mee wil help,” het die vroue van die universiteit tydens die voorlegging aan die leerders verduidelik.
Die voorlegging was saamgestel met die doel om alle kursusrigtings wat die Maties bied, vas te vang, asook die toelatingsvereistes en ander inligting oor beurse en koshuise deur te gee.
Na afloop van die toer het die eendjies soos volwaardige studente in die Neelsie-studentesentrum middagete geniet en oor die rooiplein gewandel, terwyl die universiteit se koor ‘n asemrowende middagetekonsert aangebied het.

Gr. 11- en gr.12-leerders van die Hoër Meisieskool Oranje loop Donderdagmiddag op die Universiteit Stellenbosch se rooiplein tydens ‘n begeleide toer.