Met ongeveer 700 meisies op een plek, is dit te wagte dat die woord “Valentysdag” groot opwinding sou ontlok.
By Oranje is die dag van liefde gevier deur in kleurvolle rokkies skool toe te kom en ’n oggendfunksie saam met ’n paar seuns van Grey-kollege en St. Andrews te hou. Dit is opgevolg met vriendinne wat om piekniekmandjies saamkuier en na liefdesliedjies van die Con Spirito- en Indomitus-sanggroepe van onderskeidelik Oranje en Grey luister.
Daar is vooraf met 25 leerders van die twee seunskole gereël om hulle voor te berei deur onder meer liefdesgedigte of liedjies vir hulle droomvrouens te skryf. Dít is tydens die oggendverrigtinge in die matriekvierkant vir die hele skool ten toon gestel.
Sisonke Vumazonke, een van die matrieks van Grey wat genooi was, vertel hy was aanvanklik senuweeagtig om voor almal op te tree, maar het later gewoond geraak om onder die vergrootglas te wees. “Ek het oogkontak met die dames vermy, wat my gemakliker laat voel het,” sê hy.
Die 13 matriekleerders wat op vanjaar se Valentynsdagkomitee gedien het, het reeds in die Desembervakansie aan hierdie spesiale dag beplan.
Die seuns is ingespan om ná die verrigtinge te help om die bokse en bokse vol geskenke wat die dogters vir mekaar en hul seunsvriende wou stuur, weg te dra. Aangesien daar van paaseiers tot lewensgrootte bere vir mekaar gekoop is, het die Valentynsdagkomitee desperaat ’n paar hande benodig. ’n Mens sal verstom staan oor watter liefdesgeskenke daar uitgeruil is.
Lehandri Robberts (matriek) sê dit was vir haar ’n heerlike en vermaaklike Valentynsdag. Vir Alana Beukes (gr. 8) was die piekniek ’n besliste hoogtepunt.
Volgens Joshleigh Gentleman, ’n gr. 12-dogter, is dit die klein dingetjies wat haar op Valentynsdag spesiaal laat voel. “Dis nie noodwendig groot geskenke nie, maar eerder iets soos ’n kort boodskappie waaraan ek waarde heg.”
Juf. Johanette Jacobs, een van Oranje se Afrikaanse onderwysers, se gevoel is dat liefde daaglikse dade moet wees. “Liefde dien!”
Sy vertel dit is ’n rein gedagte om die liefde tasbaar met iemand te deel, maar dat sy en haar man ’n 366-dag Valentynsdagverhouding nastreef.

Kyla Oosthuisen saam met Wynand Visser (gr. 12, Grey) wat as Mnr. Valentyn aangewys is.