– Deur Mia de Jager

Oranje het in 2015 die boerpot getref toe juf. Karlien Janse van Vuuren by Oranje as wiskunde-onderwyser aangesluit het. Vyf jaar later het nóg ’n lid uit die Van der Merwe-familie, haar jonger sussie juf. Kobi-Mari Rautenbach, gevolg.

Sy is die nuwe verbruikerstudie-onnie. Die sussies deel boonop dieselfde gang en hulle klaskamers is ’n klipgooi uit mekaar. Juf. Rautenbach was voorheen vir 17 jaar die verbruikerstudie-onderwyser by die Hoërskool Bloemfontein waar Janse van Vuuren ook eers skoolgegee het.

Juf. Rautenbach gaan nie tot die klaskamer beperk word nie, maar sal ook op die sportgronde gesien word waar sy, nes haar ousus, netbal gaan afrig.
Sy het in Bloemfontein grootgeword en op die Laerskool Willem Postma en Hoërskool Sentraal skoolgegaan waarna sy verbruikerstudie met ’n HOD aan die Universiteit van die Vrystaat gestudeer het.

“Ek sien baie uit na ‘n nuwe skool, nuwe uitdagings, om nuwe mense te ontmoet en na die res van 2020 ondanks die slegte omstandighede,” sê sy.
Juf. Rautenbach beskryf Oranje as die beste skool in Bloemfontein en dit is vir haar lekker om met dogters te werk. Sy het self drie dogters.

Volgens haar is haar ousus en nuwe kollega ook haar haar beste vriendin. “Ek kan enige geheim met haar deel en vir ure saam met haar lag. Ons het voorheen vir tien jaar lank saam gewerk by, so ons weet hoe heerlik dit is.”

Haar passie vir haar vak het in haar kinderjare posgevat. Sy was baie lief om saam met haar ma kos te maak en lekkernye te bak. Wanneer ‘n maatjie kom kuier het, het hulle in haar ma se klerekas ingevaar. Sy is gek daaroor om op haar beste te lyk vir alle geleenthede, maar is wel ook baie kieskeurig. As kind was haar droomberoep om ‘n interieurontwerper te word.

Juf. Rautenbach sê God motiveer haar deur hierdie moeilike tye en dis vir haar gerusstellend om te weet dat Hy luister en vir haar uitkyk. Dit is vir haar lekker om te weet wanneer sy ‘n slegte dag gehad het, sy huis toe kan gaan na haar gesin wat haar veilige plek is.

Juf. Rautenbach beskryf haar menswees as vriendelik, hulpvaardig en lojaal. Sy sê sy sal die geboorte van haar kinders en haar troue op die strand enige dag wil herleef. “Koffie is een van die lekkerste goed saam met ‘n Lindt sjokolade daarna!” sê sy oor die lekkernye in die lewe.

Juf. Kobi-Mari Rautenbach, nuwe verbruikerstudie-onderwyser by die Hoër Meisieskool Oranje.