Kevin, die hond wat die rol van Sandy in Annie vertolk het en ‘n groot gunsteling was, moes deur ‘n streng keuringsproses én maande se repetisies gaan om dit eindelik tot op die planke te maak.
Kevin, ‘n Golden Retriever het vele harte tydens die Hoër Meisieskool Oranje se produksie gesteel wat einde Julie opgevoer was.
“Kevin se eienaars (Lize-Mari en Anrike Coetzee) was een van vele wat ‘n CV ingedien het om deel van die produksie te wees. Hy het die rol verower omdat hy vinnig aangepas het met nuwe toertjies en natuurlik omdat hy die kenmerkende bruin kleur het,” vertel mnr. Heinrich Lategan, die musiekregisseur en orkesleier van Annie.
Volgens Anrike het Kevin vir maande lank geoefen om op Sandy in plaas van sy eie naam te reageer.
“Dit het baie hondebeskuitjies en hard praat gekos, maar Kevin het aangepas en ondanks sy ekstrovertiese persoonlikheid het hy tydens die opvoerings die gehoor geïgnoreer en slegs op Anneri (Bisschoff wat as Annie hom as rondloperhond gevind het) gefokus.”
Kevin is na afloop van die optredes uitgeput en glo nie dat hy in die nabye toekoms weer ‘n hoofrol sal aanpak nie, maar sy hart bly by al die meisies van Oranje.

Kevin die gelukkige plaashond.

Kevin op die verhoog as Sandy.