’n Sesde kroon vir die Hoër Meisieskool Oranje, ses rekords en twee individue wat die bes presterende swemmers in hulle ouderdomsgroep was.

Dís die opsomming van Oranje se vertoning op die Interhoër-swemgala wat Donderdag en Vrydag in die Stadion-swembad beslis is.

Oranje is die sesde agtereenvolgende jaar die kampioen vir meisiespanne. Die skool het ’n totaal van 1 554 punte verdien. Eunice High School (1 221) was tweede en die Hoërskool Voortrekker (155) derde. Die Oranjeniete se swemmers 14-, 15- en 16-jaar het almal hul ouderdomsgroep gewen.

Lize-Marié Davidson (gr. 11) is as die voorste swemmer vir meisies 17 jaar en ouer aangewys. Sy het net-net vir Sulinke van der Berg (tweede meeste punte) geklop. Albei het vier eerste plekke vermag.

Chloë le Roux (vyf eerste plekke) is die gesamentlike beste swemmer vir 16-jariges. Sy het vyf rekords op die gala verbeter. Anieke Helmand met haar drie goue medaljes was net-net om die eerste plek vir meisies 15 jaar geklop. Mia van der Mescht was die gala se naasbeste swemmer vir meisies 14 jaar. Sy het twee goue medaljes behaal. Die 13-jarige Francisca van Rooyen, wat in vier nommers die wenner was, het die byeenkomsrekord in die 50m-rugslag na 33.39 verbeter.

Van links is die Hoër Meisieskool Oranje se Chloë le Roux (gesamentlike beste 16-jarige meisieswemmer op die Interhoër-swemgala), Sulinke van der Berg (kaptein van Oranje se seëvierende swemspan en naasbeste swemmer vir meisies 17 jaar en ouer) en Lize-Marié Davidson (beste meisieswemmer 17 jaar en ouer).