Nie minder nie as vier van die finaliste in vanjaar se Matrikulant van die Jaarkompetisie gaan skool aan die Hoër Meisieskool Oranje.
Die finaliste is Vrydag bekend gemaak. Die viertal is Monique Davidson, Mia Moolman, Mandie de Wet en Deanri Snyman. ’n Vyfde Oranjeniet, die onderhoofmeisie Bianca van der Vyver, is ’n semi-finalis.
Geen ander skool het meer as twee finaliste nie.
Daar was 91 inskrywings in hierdie gesogte kompetisie wat sedert 1981 jaarliks deur die Universiteit van die Vrystaat (UV) en Volksblad aangebied word waarvoor matrikulante van oor die land heen wat van 2020 heeltyds aan die UV wil studeer, kon inskryf.
Die topgroep voldoen almal aan die kompetisie se kriteria van prestasies op akademiese, leierskap-, sport- en kultuurgebied. Dié finaliste en hul ouers gaan van 27 tot 29 September ’n bederfnaweek beleef waartydens die wenner aangewys word.
Mia, Monique, Mandie en Deanri is almal akademiese sterre en veelsydige leerders.
Monique, ’n leerlingraadslid wil medies of BSc studeer. Sy is lid van die Suid-Vrystaatse atletiekspan, die Vrystaatse tweekamp- en landloopspan en Oranje se interhoërswemspan. Sy het aan die Biologie- en Rekeningkunde-olimpiade deelgeneem en dien in die bestuur van verskeie komitees by die skool. Monique het sewe onderskeidings in die Junie-eksamen behaal.
Mia, ’n leerlingraadslid wil medies of sielkunde studeer. Sy swem vir die skool en is lid van die skool se marimba-, Con Spirito-sang- en dramagroep. Sy is VCSV-ondervoorsitter en -kringleier, voorsitter van die ATKV-jeugtak en koorkaptein.
Mia het ses onderskeidings in die Junie-eksamen behaal.
Deanri, ’n leerlingraadslid en koshuishoofmeisie, wil medies of aktuariële wetenskap studeer. Sy is ‘n lid van die Suid-Vrystaatse tweekampspan en kaptein van die tennis- en netbalspan waarvoor sy gespeel het. Sy het ook die Midmarmyl geswem en het ’n noodhulpdiploma. Sy is ’n kringleier van die VCSV en het gemeenskapsdiens gedoen. Deanri het agt onderskeidings in die Junie-eksamen behaal.
Mandie, ‘n leerlingraadslid wil medies of B.Rek studeer. Sy speel sedert gr. 10 vir die skool se eerstespanhokkie en is ‘n lid van die Suid-Vrystaatse o.18A-span wat die naawenner op die SA-toernooi was. Sy is ’n VCSVkringleier, sy swem en het aan die Wêreldkennis- en Rekeningkunde-olimpiade deelgeneem. Sy doen ook gemeenskapswerk en noodhulp. Mandie het sewe onderskeidings in die Junie-eksamen behaal.

Oranje se vier finaliste in die Matrikulant van die Jaarkompetisie is van links Deanri Snyman, Mia Moolman, Mandie de Wet en Monique Davidson.