Nog ’n byeenkoms, nóg ’n rekord vir die Hoër Meisieskool Oranje se naelloopsensasie, Charné Wansbury.
Dié 14-jarige het Vrydag op die Hoërskool Sentraal se Top 20-byeenkoms in die Mangaung-stadion die 100m vir meisies o.15 in ’n rekordtyd van 12.04 afgeblits. Die vorige rekord (12.12) het sedert 2007 gestaan. Dit was Charné se vierde rekordtyd die seisoen. Sy is as die beste meisie-atleet in ’n baanitem aangewys. Charné het ook ’n sege in die 200m vermag in ’n tyd van 25.51.

Oranje se A-span is as die beste meisiespan aangewys en is ook die nie-amptelike wenner van die byeenkoms deur die meeste punte en medaljes (15) van al die deelnemende spanne (30 in totaal) te versamel. Die 15 medaljes betaan uit 4 goud, 8 silwer en 3 brons.

Charné het vroeër vandeesmaand die HTS Louis-uitnodigingsbyeenkoms se 100m-rekord vir o.15’s na 12.48 verbeter. In Oktober verlede jaar op die Grey/OMS-byeenkoms het ’n rekord wat 17 jaar gestaan het – die 200m vir o.14’s – in ’n nuwe rekordtyd van 24.96 genael.
Kort daarna, op die JP Botha JF-byeenkoms, het Charné ook die vinnigste tyd nóg op dié byeenkoms in die 200m (25.52) opgestel.

Roline Louw (400m, o.15) en Zanelle Jansen van Rensburg (400m, o.17, 63.97) was Vrydag verantwoordelik vir Oranje se ander twee eerste plekke.
Die silwermedaljes is behaal deur Germarie Spershott (300m-hekkies en 90m-hekkies, o.15), Carlé Stockenström (800m, o.15), Roline (200m, o.15), Miané Smit (spiesgooi, o.15), Zanelle (100m-hekkies, o.17), Marjanell van Dyk (gewigstoot, o.19) en die o.19 aflosspan in die 1000m (Charné, Roline, Germarie en Zanelle).

Charné Wansbury, naelloper van die Hoër Meisieskool Oranje het nou reeds vier byeenkomsrekords hierdie seisoen verbeter. Foto: Bloemfontein Action Photos