– Deur Clarissa Delport
Covid19 het vanjaar al baie drome verydel en harte gebreek, party so twee op ‘n slag soos die geval met Rehanjo Swanepoel.
Dié matrikulant moes eers die nuus verwerk dat haar toneelstuk wat sy geskryf het en sou geregisseer het, weens die pademie van die planke is. En toe moes sy dit ook nog aan die spelers bekendmaak.
“My hart was gebreek. Wat vir my die heel ergste was, was om die nuus aan my twee wonderlike aktrises (Katie Reimers en Thanya Venter) oor te dra. Die teleurstelling was groot en ek was moedeloos oor die tyd wat daarin gegaan het,” sê Rehanjo.
Die ATKV-tienertoneel het besluit ’n dramaleerder moet vanjaar voorvat en self ’n toneelstuk skryf en as spelleier optree. By Oranje sou dié taak deur Rehanjo verrig word, maar is deur die pandemie in die wiele gery. Sy was vreeslik opgewonde oor die eens-in-‘n-leeftyd-geleentheid.
“Ek het uit my vel gespring van blydskap. Die begeerte om my eie produksie te kon skryf en dan ook die regisseur te wees, het al in gr. 8 se klein dramaklasopvoerings in my vlamgevat.”
Daar is min dinge wat haar so opgewonde maak soos teater. Die skryfproses het Rehanjo omtrent ‘n jaar lank geneem. Dit was ‘n lang proses en daar het baie moeite en slapelose nagte in gegaan.
Sy het in 2019 al begin broei aan die idee en waar ander leerders in die somervakansie heerlik in die see baljaar het, het sy aan die skryf gegaan.
Sy sê haar ma, juf. Naretha Swanepoel, en musiek is haar grootste bron van inspirasie.
Die toneelstuk is ongelooflik persoonlik en handel oor rou mense emosies. ‘n Deurlopende tema is ook musiek wat afgelei kan word deur die naam van die teks ‘Sinkopasie’ (’n musiekterm wat dui op harmoniëring).
Rehanjo laat dit haar nie onderkry nie. Sy beplan ‘n toekoms in drama waar sy hoop om weer so ‘n geleentheid soos vanjaar te kry. Sy gaan by Open Window (‘n privaat universiteit) studeer waar sy in meer diepte op musiekteater, film en TV wil fokus.
“Drama is my lewe en ek kan nie wag vir wat die toekoms kan bring nie,” sê sy.

Rehanjo Swanepoel met die plakkaat van Sinkopasie wat ‘n foto van haar ma en jonger sussie, Hannalize, is.