Die gr. 8’s by Oranje is Vrydag vir die eerste keer in hulle kenmerkende pampoenrokke skool toe en dit het met ’n spesiale saalperiode gepaardgegaan, bekend as die nuwelingsfunksie.
Flo Truter, hoofdogter, het aan die nuwelinge tien wenke gegee om die meeste uit hulle vyf jaar op Oranje te kry.
1. NEEM BAIE FOTO’S. “Vang herinneringe vas. Neem foto’s van die groot goed, die klein goed en ook die lawwe goed.”
2. BLY ALTYD NABY AAN GOD: “Oranje bied vir jou die geleentheid om jou verhouding met God te versterk en nader aan Hom te kom. As dit voel asof die wêreld teen jou is – glo my daar gaan sulke oomblikke kom – onthou net Hy is aan jou kant.”
3. GRYP ELKE GELEENTHEID AAN MET TWEE HANDE: “Hier by Oranje gaan jy baie geleenthede gebied word en as jy dit nie met altwee hande gaan gryp nie, mag dit dalk net deur jou vingers glip.”
4. NEEM AAN ALLES DEEL EN DOEN DIT MET PASSIE: “As jy dit nie met passie gaan doen nie, kan jy dit netsowel los. Klim uit jou gemaksone en jy mag jouself dalk net verbaas. Moenie dat ander mense se sienings jou geleenthede laat misloop nie.”
5. LEEF IN DIE OOMBLIK: “Jou vyf jaar op Oranje gaan so vinnig verby, jy moet elke oomblik koester, want voor jy jou oë uitvee staan jy in jou lugwaardinpakkie.”
6. LEER HARD, MAAR ONTHOU OM TE SPEEL: “Ja dis belangrik om te leer, maar moenie jou vriende afskeep nie. Maak tyd vir mekaar en om herinneringe te bou.”
7. STEL ‘N SKOP-DIE-EMMERLYS OF BUCKETLIST OP: “Maak seker wat jy uit jou hoërskoolloopbaan wil kry en maak planne om dit te bereik. ’n Droom kan slegs realiseer as jy planne beraam om daarby uit te kom.”
8. MAAK DIE LEWE VIR JOUSELF LEKKER, WANT NIEMAND IS OP DIE AARDE GESIT OM JOU LEWE VIR JOU LEKKER TE MAAK NIE: “Die houding waarmee jy opstaan gaan die uitkoms van jou dag bepaal.”
9. LUISTER NA JOU OUERS SE RAAD: “Dit voel of hulle partymaal (eintlik meeste van die tyd) nonsens praat, maar onthou hulle is al langer as jy op aarde en het ’n voorsprong in ondervinding.”
10. SIEN DIE KLEIN GOEDJIES IN DIE LEWE RAAK, WANT HULLE IS OOK BELANGRIK: “Wees dankbaar vir die klein goedjies, want dit wat jy as vanselfsprekend ag, bid iemand anders dalk voor.”