Die vyf Oranjeniete wat in 2019 met agt onderskeidings matriek geslaag het, het pas na sewe toegeneem.
Dít nadat die uitslae van hulle hernasien bekend gemaak is.
Talita Robbertse (twee bykomende onderskeidings in Afrikaans en Lewenswetenskap) en Mia Moolman (’n bykomende een in Engels) spog albei nou ook met agt onderskeidings. Hulle sluit hul by Marizanne Strydom, Gabriela von Eschwege, Lise Bezuidenhoudt, Talitha Heyns en Lize de Wet aan.
Geen ander Vrystaatse skool kon in verlede jaar se matriekeksamen vyf of meer leerders oplewer wat agt onderskeidings kon vermag nie. Slegs 15 leerders in die provinsie kon aanvanklik agt of meer onderskeidings agter hulle name skryf. Die nege Oranje-leerders in die top 50 in die Vrystaat was ook die meeste deur ’n skool.
Tiané Theunissen se ses onderskeidings het met een vermeerder nadat haar 79% in Besigheidstudie na 80% aangepas is. Sy het haar agtste onderskeiding (in Wiskunde) met twee persentasiepunte misgeloop.
’n Addisionele 14 onderskeidings is bereik, wat die totaal nou op 273 te staan bring.
Oranje se klas van 2019 se totale lyk nou so:
– 7 leerders behaal 8 onderskeidings.
– 8 leerders behaal 7 onderskeidings.
– 3 leerders behaal 6 onderskeidings.
– 2 leerders behaal 5 onderskeidings.
– 3 leerders behaal 4 onderskeidings.