Dit was verlede week op die Vrystaat Kunstefees ’n dramareünie in die kleine toe ses oud-dramaleerders aan die Hoër Meisieskool Oranje, wat intussen professionele aktrises geword het, die planke betree het.
En hulle was besige bytjies, oftewel eendjies. Merikie Bekker, Schoemé Grobler, Loané van Sandwyk, Martelize Kolver, Jana Coetzer en Hillétje Möller-Bashew was gesamentlik in tien produksies en 33 optredes betrokke.
Kolver het in Katvoet gespeel, Coetzer en Möller-Bashew in Die Koning sterf, Van Sandwyk in Francie en haar foon, Bekker in Die wonderlike avonture van Pietie en Kosie: Die towerstaf dief en Die groot avonture van Vernon en sy maats: Die heks fiasko en Grobler in Archipelago, Babah go round, Loeloe se liewe lawwe loskop ouma! en Rondomtalie.
Maryna Hattingh, ook ‘n gewese Oranje-leerder, was die vervaardiger, regisseur en skrywer van die twee kinderproduksies waarin Bekker gespeel het. Albei was in 2013 in matriek.
Möller-Bashew, wie se skoonma, die sanger Clarabelle van Niekerk ook ’n oud-Oranje is, was nes Grobler in Babah go round waarin sy die viool bespeel het. Sy het van die stemwerk in die dokumentêre rolprent Daar Buite gedoen, was ’n lid van die fees se produksie-keuringskomitee en die kurator van Reuk, ’n lewende en interdissiplinêre kunsprojek.
Coetzer is nou ’n Johannesburger, Kolver ’n Kapenaar en Bekker, Grobler, Van Sandwyk en Möller-Bashew Bloemfonteiners. Möller-Bashew woon ses maande van die jaar in Amerika.
“Drama op skool het vir seker ’n rol in my loopbaankeuse gespeel. Daar was nie op ons neergekyk nie,” sê Möller-Bashew wat in 2002 matrikuleer het.
Van Sandwyk en Grobler, onderskeidelik die hoofmeisie en onderhoofmeisie in 2011, stem saam. “Drama-leerders het net soveel erkenning geniet as diegene wat aan sport of ander kultuuraktiwiteite deelgeneem het,” sê Van Sandwyk wat ook ’n liedjieskrywer, sanger en geleentheidspreker is.
“Jy het het glad nie nerdy gevoel nie. Ek was trots om drama te neem en dit het my selfvertroue gegee wat ek later in my loopbaan verder kon neem,” sê Grobler, wat vir verlede jaar se fees die heel eerste babateaterproduksie vervaardig het. Saam met hulle in matriek was Anika du Toit, wat ook onder meer ’n akteur is.
Kolver (1991 in matriek), wat al verskeie televisierolle vertolk het, het drama op universiteit gekies vir die min akademiese werk.
“Tog wil ek glo om drama te studeer gaan oor meer as net akteur wees. Dit leer jou vaardighede soos eerlike kommunikasie en interpretasie.”
Volgens Coetzer (2010) het drama op skool ’n liefde vir die kunste by haar gekweek. “Ek het weens ’n sportbesering ’n kultuurmens geword, maar dis iets waaroor ek baie bly is.”
Al vyf sê Mariehetta Matthee, oud-skoolhoof wat self ’n dramagraad het, het ná skool met hulle kontak gehad of gehou en woon gereeld hul opvoerings by.
▪ Nóg twee oudleerlinge, Naòmi Morgan en Saartjie Botha was op die fees doening, onderskeidelik as resensent en aanbieder vir voornemende dramaturge.
▪ Nege leerders was by Oranje se opvoering van die produksie Tyd.Saam (deur Retha Pool, Oranje se drama-onderwyser) op die Reza de Wet-tienertoneelfees betrokke wat deel van die fees is.
▪ Oranje het oor die jare verskeie ander aktrises opgelewer waarvan Dulcie van den Berg, Christine Basson, Reza de Wet en Heléne Lombard van die bekendste is.

Ses oudleerders van die Hoër Meisieskool Oranje was verlede week op die Vrystaat Kunstefees in tien produksies en 33 optredes betrokke. Hulle is van links Loané van Sandwyk, Schoemé Grobler, Jana Coetzer, Hillétje Möller-Bashew en Martelize Kolver. Afwesig: Merikie Bekker. Foto: Conrad Bornman