Veertien jaar nadat Anneri Moolman (née Ebersohn) die rekord in die 400m-hekkies vir o.16’s op die Motheo/Gariep-atletiekbyeenkoms opgestel het, het ’n Oranje-atleet dié oud-Oranje se rekord uit die boeke gevee.
Die byeenkoms is Saterdag beslis met ’n paar items wat eers Woensdag afgehandel kon word.
Zanelle Jansen van Rensburg se wentyd in die hekkies was 64.71. Anneri, ’n voormalige Suid-Afrikaanse junior kampioen, het op 24 Februarie 2006 die 400m-hekkies in 65.21 voltooi. Sy was die hoofdogter in 2008 en hou steeds drie ander rekords op dié byeenkoms.
Zanelle het ook in die 400m geseëvier. Sy was een van drie Oranje-atlete wat nuwe rekords opgestel het. Germarie Spershott het dit in twee uiteenlopende items gedoen – die 300m-hekkies en spiesgooi vir o.15’s. Hoewel sy tweede in die hekkies geëindig het, het haar tyd (43.29) op die vorige byeenkomsrekord verbeter.
In die spiesgooi het sy met ’n afstand van 43.05m geseëvier. Sy is ook die tekordhouer in die spiesgooi o.14 wat sy verlede jaar met bykans tien meter verbeter het.
’n Jaar nadat Johani van Tonder die o.15-rekord in die driesprong van 10.40m na 11.15m verbeter het, het sy dieselfde met die o.16-rekord gedoen. Haar reuse-sprong van 11.72m is ‘n groot verbetering op die vorige rekord wat op 11.16 gestaan het. Sy was ook in die verspring en hoogspring aan die wenkant.
Ander atlete wat indrukwekkend vertoon het, is Charné Wansbury (o.15, twee goud), Klarissa Bezuidenhout (o.17, twee goud), Marilet Blom (o.14, twee goud, een silwer) en Carlé Stockenström (o.14, twee goud).
’n Totaal van 46 atlete het vir die Vrystaat kampioenskappe aanstaande naweek in Sasolburg gekwalifiseer. Dis volgens mnr. Christian Fourie, Oranje-atletiekhoof, die meeste in twee dekades.

Zanelle Jansen van Rensburg (regs).