HISTORIESE INFO
► Klik hier vir die eeufeesvideo
► Klik hier vir die eeufeesboek
► Pres. Steyn se invloed
Die Vrystaatse pres. Marthinus Theunis (MT) Steyn beywer hom om die Afrikaner op geestelike, kulturele en ekonomiese gebied op te hef. “Opvoeding en onderwys sal my lewenstaak wees, want daarvan hang ons volksbestaan af,” het hy gesê.
Hy besluit om ’n meisieskool in Bloemfontein te stig waar die Afrikaanse plattelandse dogters ’n Christelik-Nasionale opvoeding kon kry. Op 11 April 1907 neem die eerste klasse in aanvang met 35 leerlinge (wat gedurende die jaar tot 45 gegroei het), 7 onderwyseresse en Elizabeth le Roux as die eerste skoolhoof.
By die formele opening van die skool, 2 Augustus 1907, het pres. Steyn, as voorsitter van die kuratorium, in sy openingsrede die redes vir die stigting van die skool uiteengesit: “Gee die vrou godsdiens, eerbied en geloof in die goeie, die edele en die heilige, en sy staan so vas soos ‘n rots. Sy sal, as die geleentheid hom voordoen, ’n heldin word,” het hy gesê.
Hy het ook gesê dit moet ’n Afrikaanse skool wees waar leerders hulle moedertaal praat en liefhê. Maar bowenal ’n skool waarin die Bybel ’n ereplek sal inneem as die ewige gids van die lewe.
Pres. Steyn se dogter Gladys was in 1907 een van Oranje se eerste leerders. Sy was kort daarna die eerste matriekleerder en die eerste hoofmeisie. In 1916 het sy op 25-jarige ouderdom die jongste skoolhoof van Oranje geword.
Een keer per jaar met die skool se verjaardag gaan al die leerlinge na die Vrouemonument om hulle dank te betuig waar pres. Steyn en sy vrou, Tibbie (wat ook ’n groot bydrae tot Oranje gelewer het), begrawe is.
► Waarom die naam “Oranje”
As blyk van erkentlikheid teenoor die jong Nederlandse koningin Wilhelmina vir haar meegevoel en daadwerklike geldelike steun aan die president en sy gade, is daar besluit dat die skool met sy naamgewing hulde aan die huis van Oranje sou bring.
► Skoolwapen
Pres. Steyn en sy gade het die familiewapen van die Steyns, afkomstig uit Haarlem, Holland vir skoolgebruik oorhandig.
► Skoolleuse
Met die leuse “Vooruit” waarvan die drie eendjies die simboliese betekenis dra (’n eend kan net vorentoe stap en nooit agteruit nie), het Oranje sedertdien voortbeweeg, getrou aan die hoë ideale wat sy stigter beoog het, diep gewortel in sy onwrikbare geloofsvertroue in die dogters van sy volk.
► Skoollied (Klik HIER om daarna te luister)
Die skoollied “Driewerf gegroet” is deur Oranje se eerste skoolhoof, Elizabeth le Roux, se suster, Hanna le Roux in Engels geskryf. Ds. W. Boshoff het dit in Nederlands vertaal. Die lied is in Hoog-Hollands geskryf omdat Afrikaans destyds nog nie ’n erkende taal was nie.
C. Combrink het dit getoonset. Dis die eerste keer op 2 Augustus om 11:00 deur 35 leerders, skoolhoof en sewe onderwysers tydens die amptelike opening van die skool gesing.
Driewerf gegroet onze hulde Oranje!
Hier word gekweekt zo’t verstand als de ziel.
Hier zijn wij samen om kennis te garen,
Ach of op ons ook haar lichtstraal eens viel.
O Alma Mater wij dienen u williglik,
U leven wij, u geven wij
Ons liefd’ en kracht met heel ons hart.
► Skool se verjaardagviering
Die eerste Vrydag van die tweede kwartaal lê die skool ‘n krans by die graf van die stigter van die skool, pres. MT Steyn, by die Vrouemonument. So word die skool se verjaarsdag reeds sedert 1913 gevier.
Op 16 Desember 1913 – met die inwyding van die Vrouemonument was Oranje daar. In Desember 1916 was Oranje weer daar toe die president begrawe is, en toe gereeld daarna tot vandag toe.
► Verjaarsdaglied
– Geskryf deur Tahlita Ammerman in 1917
Oranje! Oranje! Oranjeskool!
Oranjeskool wat ons bemin,
hoe bly is ons vandag!
Jy het maar in die klein begin, ook goed daarin geslaag.
‘n Jaar het weer verby gegaan,
En jy het ook nie stil gestaan,
En jy het ook nie stil gestaan,
Maar steeds vooruit gegaan.
Vooruit! Was altyd maar jou leus,
Laat kom wat wil of mag.
Vooruit! Dit sal ons leus ook bly, tot in die nageslag!
► Skoolhoofde
● 1907-1910 Elizabeth le Roux
● 1910-1912 Nelly Hauptfleisch
● 1913-1916 C. Walter
● 1916-1919 Gladys Steyn
● 1919-1924 E. Maartens
● 1924 C. Edeling (waarnemend)
● 1924-1927 H. de Bruyn
● 1927-1928 Linde Schoon (waarnemend)
● 1928 E. Spratt (waarnemend)
● 1929-1930 Ebie Ferreira
● 1931-1940 Rae Steyn
● 1940 E. Spratt (waarnemend)
● 1941-1961 C. M. Jooste
● 1962-1982 M. L. Spies
● 1983 Emmie Steyn
● 1984-1992 Ilse-Marie Pellissier
● 1993-2017 Mariehetta Matthee
● 2018- Anne-Marie Klink