KONSESSIES

Wat is konsessies?

Konsessies is aanpassings wat tydens assesserings vir akademies kwesbare leerders gemaak kan word.

Wie kwalifiseer vir konsessies?

  1. Leerders met ’n fisiese gebrek of -hindernis, wat assessering met die gewone metodes moeilik maak.
  2. Leerders met ’n gediagnoseerde leerhindernis, wat veroorsaak dat leerders beduidend onder hulle getoetste vermoë presteer. Hierdie leerhindernis moet reeds voor die einde van die leerder se gr. 10-jaar onder die aandag van die skool gebring word.

Wie nie vir konsessies kwalifiseer nie

  1. Leerders waar die taal van onderrig die primêre probleem is, aangesien dit nie die leerders se moedertaal is nie.
  2. Leerders wat oor ’n lae, kognitiewe vermoë beskik.

Goedkeuring vir konsessies

  1. Goedkeuring vir konsessies berus alleenlik by die Departement van Inklusiewe Onderwys.
  2. Die skool is nie by magte om goedkeuring vir konsessies te gee nie.
  3. Konsessies is ’n laaste opsie, nadat alle moontlike ander ingrepe om die leerhindernis te ondervang, reeds uitgeput is.
  4. Die Skoolgebasseerde Ondersteuningspan (SBST) ondersoek die aansoek en die nodige dokumente. Die SBST maak ’n aanbeveling aangaande verdere ingrepe om die leerhindernis te ondervang of rig ’n versoek aan die Distrikgebaseerde Ondersteuningspan (DBST) vir die goedkeuring van die konsessies.
  5. ’n Aanbevelingsverslag vanaf enige professionele persoon wat die leerder evalueer het, is nie ’n waarborg dat konsessies deur die skool aanbeveel sal word nie. So ’n verslag dien slegs as een bron van inligting wat deur die skool en departement oorweeg sal word.
  6. Slegs nadat die skool skriftelike goedkeuring vanaf die Departement van Onderwys ontvang het, sal die konsessies geïmplementeer word. Onder geen omstandighede, behalwe onmiddellike fisiese trauma, sal konsessies voortydig geïmplementeer word nie.
  7. Die proses strek oor ‘n tydperk van drie maande.

Aanbeveling vir konsessies deur die skool

Die SBST neem die volgende faktore in ag wanneer ’n aanbeveling vir konsessies gemaak word:

  1. Die leerder moet eers alle nodige ingrepe en hulp ontvang het om die effek van die leerhindernis te ondervang. Ingrepe soos remediërende onderrig, leeshulp, terapeutiese ingrepe, akademiese hulp, medikasie (waar voorgeskryf) ens. Skriftelike bewyse hiervan moet aan die skool verskaf word.
  2. Indien daar nog geen of te min ingrepe plaasgevind het, sal die SBST die nodige ingrepe aanbeveel voordat konsessies aanbeveel word.
  3. Konsessies gaan nie aanbeveel word indien die leerder se leeringesteldheid en -gedrag nie voldoende is vir akademiese vordering nie.
  4. Konsessies gaan nie aanbeveel word indien die leerder se afwesigheid van skool haar akademiese vordering benadeel nie.
  5. Konsessies gaan nie aanbeveel word indien ’n leerder reeds volgens haar getoetste akademiese vermoë presteer nie.
  6. Leerhindernisse moet voor die einde van gr. 10 onder die skool se aandag gebring word, ten einde genoeg tyd toe te laat vir die nodige ingrepe en hulp aan die leerder.
  7. Aansoeke vir gr. 11 sluit in November van die leerder se gr. 10-jaar. Gr. 12-aansoeke sluit in Junie van die leerder se gr. 11-jaar.
  8. Geen nuwe aansoeke gaan in gr. 12 deur die skool aanbeveel word nie, behalwe in die geval van fisiese beserings.

Enige verdere navrae kan gerig word aan die leerderondersteuning en -ontwikkelingkantoor by liesel@oranjemeisies.co.za.