LEWENSWETENSKAP

Lewenswetenskap is die wetenskaplike studie van lewende dinge vanaf molekulêre vlak tot en met hul interaksies met mekaar en hulle omgewing. Om aanvaar te word as in-wetenskap, is dit nodig om sekere metodes te gebruik vir die verbreding van bestaande kennis, of om nuwe dinge te ontdek.

Die wetenskaplike kennis wat in die skool geleer word, is getoets en word oor die algemeen aanvaar. ’n Goeie onderwyser sal die leerders vertel van die debatte, argumente en geskille tussen wetenskaplikes wat eerste was om ‘n verskynsel te ondersoek.

Lewenswetenskap as skoolvak
► Lewenswetenskap is die studie van lewe op verskillende vlakke van organisasie en bestaan uit ’n verskeidenheid van sub-dissiplines, of spesialisasierigtings.

► Daar is drie redes vir die neem van lewenswetenskap:
– om nuttige kennis en vaardighede te voorsien wat in die alledaagse lewe nodig is;
– om leerders bloot te stel aan die verskeidenheid en omvang van biologiese studies en daardeur hul belangstelling te stimuleer en ’n bewustheid te skep van moontlike spesialisasie; en
– om voldoende agtergrondkennis te verskaf vir verdere studies in een of meer van die biologiese sub-dissiplines.

► Deur lewenswetenskap te bestudeer, sal leerders die volgende ontwikkel:
– hul kennis van belangrike biologiese begrippe, prosesse, stelsels en teorieë;
– ‘n vermoë om wetenskaplike kwessies en prosesse krities te evalueer en te debatteer;
– groter bewustheid van die maniere waarop biotegnologie en kennis van lewenswetenskap die mensdom gebaat het;
– ‘n begrip van die maniere waarop die mens ‘n negatiewe uitwerking het op die omgewing en die organismes wat daarin is;
– ‘n diep waardering vir die unieke diversiteit van biome in Suider-Afrika, in die verlede en die hede, en die belangrikheid van bewaring;
– ‘n bewustheid van die betekenis daarvan om ‘n verantwoordelike burger te wees in terme van die omgewing en lewenstylkeuses wat hulle maak;
– ‘n bewustheid van die bydrae van Suid-Afrikaanse wetenskaplikes;
– wetenskaplike vaardighede en maniere om wetenskaplik te dink wat hulle in staat stel om die leemtes in pseudo-wetenskap in die populêre media te sien, en
– ’n vlak van akademiese- en wetenskaplike geletterdheid wat hulle in staat stel om te lees, praat, skryf en te dink oor die biologiese prosesse, -konsepte en -ondersoeke.